Christelle Wessels is 'n bekroonde Afrikaanse misdaadfiksie-skrywer met 'n passie vir stories wat raakslaan. Sy is in die herfs van 1968 in De Aar in die Noord-Kaap gebore as die jongste van ses kinders – haar ouers se laatlam.
Sy begin haar skoolloopbaan in De Aar, maar die gesin verhuis einde 1980 na Warrenton, ’n klein dorpie op die oewers van die Vaalrivier. As skolier blink Christelle in debat -en redenaarskompetisies uit, sy is die solis vir die skoolkoor en sing ook in die kerkkoor. In haar matriekjaar blink sy as aktrise uit in ’n skoolproduksie vanNP van Wyk-Louw se Die Held. Christelle verwerf goud met haar vertolking in daardie jaar se ATKV-kompetisie.
Ná haar skooljare in Warrenton het sy aanvanklik by die SAPD in Port Elizabeth aangesluit, waar sy onder andere by die Blitspatrollie diens gedoen het. Later het sy haar loopbaan verbreed as persoonlike assistent, kontrakbeampte en uiteindelik joernalis — ’n droom wat in 1998 waar geword het. Sy het haar joernalistieke loopbaan afgeskop by die Klerksdorp Rekord, en in 2004 is sy redakteur van die Stellalander in Vryburg. 2018 tot einde 2024 dien sy as groepsmediaredakteur by die Noordwes Koerantgroep.
Christelle se debuutroman, Adder, is in 2017 gepubliseer en is gevolg deur Brandmerk, Om beter te kan moor en Wegkruiper, wat in 2024 op die kortlys (Top 3) van die Mnet/Rapport Herman Binge-prys geplaas is. Haar nuutste roman, Verval, verskyn later vanjaar. Buiten romans, skryf sy ook kortverhale vir tydskrifte soos Huisgenoot en Rooi Rose.
Wanneer sy nie skryf nie, geniet sy rockmusiek uit die 60s, 70s en 80s, verslind enigiets truecrime-erig en gryp elke moontlike kans aan om entoesias leke-natuurfoto’s te neem.
Sy is ook 'n diereliefhebber en haar twee worshonde, Ozzy en Arya, draai haar om hul oulike pootjies.
Christelle is die trotse ma van twee kinders en ouma van drie kleindogters.
Prestasies: Woordveertjienominasie (Adder)
Mnet/Rapport Herman Binge-prys Top 3 (Om Beter te kan Moor)
Joernalis van die Jaar: Menslike Nuus (Sanlam Gemeenskapsperstoekennings)
Ondervinding: 25 Joernalistieke ervarings
9 jaar Fiksieskrywer
Education: Diploma in Joernalistiek (Pretoria Technikon)
Skryfaanslag/skryffilosofie:
Ek skryf omdat ek nie anders kan nie. Ek pak ook nie stories aan nie; Hulle betrek my by hul bestaan.
Uitdagings en groei:
Die grootste uitdaging van enige skrywer is om iemand te kry wat in jou en jou vermoë om ‘n storie te kan vertel, te glo. Daarna is die uitdaging om jou ego te laat gaan en ander, meerkundige mense, binne te laat om jou te help om jou stories beter oor te dra – elke keer. Want al word jy met elke nuwe boek meer geslyp, is daar ook elke keer weer iets nuut wat jy kanleer en probeer bemeester. As skrywer het ek geleer om soos ‘n kruik te wees wat gevul kanword uit die fonteine wat beskikbaar is. Jy kán seker die skryfpad alleen loop as jy sou wou, maar dis soveel beter om vriende al langs die pad te maak wat jou aanspoor en help vorm.
Hoe gebruik jy kritiek? Jy kan jouself afsluit en sê kritiek pla jou nie. Dalk is daar skrywersvir wie dit waar is. Nie vir my nie. Kritiek is nie lekker nie en dit maak seer. Maar nadat ek vir ‘n week – of drie – gekerm, gekla en tande gekners het, bekyk ek dit sonder om emosioneel te raak. Ek probeer deur die oë kyk van ‘n buitestander. Wanneer ek met ‘n nuwe manuskrip – of enige skryfwerk – daarna begin, probeer ek om die leemtes wat uitgewys is, te verbeter. Ek lees my eie werk met meer oorleg en minder simpatie. Ek neem ook baie deeglik kennis van hoe my manuskrip geredigeer word – sodat ek ook met ‘n volgende een daardie foute minder kan probeer maak.
Waar kry jy die idees? Soos ek hier bo sê, dis meer ‘n geval van die idees kry my! Feitlik al my stories is op werklike nuusgebeure/werklike misdade gegrond. Party baie, ander net effens.
Leser raad wat skrywer wil wees: Eerste stap – wat ek gemis het, maar na my tweede roman wél geneem het – is om Stephen King se ‘On Writing’ aan te skafen dit te lees, lees, lees. Daarna bêre jy dit nie weg nie; Jy hou hom byderhand, al is dit net om na te kyk – want dan herinner jy jouself dadelik aan die beginsels wat hy daarin gee. Tweede brokkie raad sal wees: As jy wil skryf, skryf. Moenie elke dag vir jouself sê: “Eendag gaan ek nog ‘n boek skryf” nie. Vandag is jou eendag. As dit vir jou belangrik genoeg is, sal jy die tyd vind.
https://www.penguinrandomhouse.co.za/book/wegkruiper/9781776380695
https://www.goodreads.com/author/list/50855547.Christelle_Wessels
Foto Galery